Ek kan nie eers tel hoeveel oggende ek al oor die bad se rand gehang het terwyl my ma my hare haastig was net voordat die skoolklok lui nie. Dit is daardie tipiese “ons is laat, maar my hare lyk verskriklik”-oomblikke wat baie meisies maar te goed ken. As jy ook sukkel met hare wat vinniger vetterig word as wat jy “shampoo” kan sê, is hierdie wenke defnetief vir jou. Hier is ’n paar maklike maniere om jou olierige hare te red – en jou skoon hare langer skoon te hou.
1. Droë sjampoe: jou geheime wapen
Wanneer daar regtig nie tyd is vir ’n stort nie, kan droë sjampoe jou beste vriendin wees. Jy kry dit by winkels soos Clicks en Dis-Chem. Skud die blikkie, hou dit ’n entjie van jou kop af en spuit liggies by die wortels. Masseer dit saggies by jou kopvel in, en voilà – jou hare lyk sommer weer vars en minder olierig.
2. Stywe vlegsels en slim haarstyle
Op dae wat jou hare eenvoudig nie wil saamwerk nie, kan ’n stywe haarstyl jou red. Duitse vlegsels, Franse vlegsels of selfs ’n netjiese poniestert laat jou hare dadelik meer versorg lyk. Ja, dit kan dalk ’n bietjie trek en ongemaklik wees, maar dis steeds beter as om die hele dag selfbewus oor jou hare te voel.
3. Satyn-kussingslope is ’n game changer
As jou hare vinnig olierig word, kan jou kussingsloop die skuldige wees. Gewone katoen veroorsaak wrywing, wat help om olie oor jou hare te versprei. ’n Satyn-kussingsloop is gladder, so jou hare raak minder deurmekaar en word nie so vinnig vet nie. Dis ’n klein verandering wat ’n groot verskil kan maak.
4. Opknapper hoort net op die punte
Dis aanloklik om opknapper oral te smeer, maar moenie dit op jou kopvel sit nie. Jou kopvel produseer reeds natuurlike olies, en ekstra produk kan dit net vererger. Smeer jou opknapper slegs op die punte van jou hare – dis waar dit die meeste nodig is. Só bly jou hare sag sonder om vinniger olierig te raak.
Dit is al my wenke vir vandag. Ek hoop dit bring ’n bietjie lig in jou stryd teen olierige hare. Probeer gerus ’n paar van hulle uit – jy sal verras wees met hoe groot van ‘n verskil hulle kan maak. Onthou: jy kan nie altyd die omstandighede beheer nie, maar jy kan slimmer daarmee werk. Ek sien uit om weer binnekort nog wenke met jou te deel!


