Jana Hoogenboezem

Dogter van alle horisonne

Sy word gebore onder die son,

met ’n wieg wat ruik na sout en kaneel,

waar die wind van die see en die woestyn

mekaar in haar longasem vind.

Haar naam het ritmes

trane,

liedere,

en die geur van jasmyn

wat nooit uit haar hare wil verwelk nie.

Sy dra haar kultuur in haar heupe,

in haar hartklop,

in haar drome,

in haar voete

wat deur fyn sand en stadstrate loop.

Orals waar sy staan,

word sy gevra: Van waar is jy?

en sy antwoord met stilte,

want haar tong is ’n tuin

met te veel riviere om net een naam te dra.

Sy leer dat behoort nie ’n plek is nie,

maar ’n manier om asem te haal,

dat heel wees nie beteken

om die skerwe weg te steek nie,

maar om hulle soos ń glas-in-lood

in die son te hou

sodat elke kleur lig word.

Sy is die stem van haar voormoeders,

die geheim van haar vaders,

die verlange van volke

wat nog nooit ontmoet het nie.

En tog, in haar bors,

klop net een eenvoudige waarheid:

sy is die dogter van alle horisonne,

maar sy hoef net haar eie

omhelsing te wees om heel te bly.