Vanjaar se graad ags beleef die verwelkomingsweek met toewyding, trots – en dalk ‘n traan of twee.
“… vier, vyf, ses, NAAAAAHHHHNNNKWAMMM!” Hierdie temalied het vir lank na die verwelkomingsweek nog in ons koppe gedraai. Hoekom doen ons steeds die moeite om op die eerste dag te gaan loer wat die graad ags aanvang. Wel, om ons eie geheue te verfris, natuurlik. Die herinneringe van ons eie eerste week in Hoër Meisieskool Bloemhof word weer soos ‘n ou skat herontdek.
Na afloop van daardie eerste week wat so vinnig verbygegaan het, is dit goedgedink om met twee van die nuwe graad ag leerders, of liewer, twee van die namkwamme (soos hulle nou bekend is), ‘n onderhoud te voer. Isabella van Zyl en Avery Engelbrecht het entoesiasities ingestem om vir ons bietjie meer oor hulle ervaring van die verwelkomingsweek te vertel.
“Ek het eers half twaalf in die aand begin om my legkaart-boks te maak. Dit het ‘n rukkie gevat om na daardie Maandag-namiddag alles reg te maak vir die volgende dag en aandete te eet. Die volgende oggend was ek reeds 20 voor vyf wakker om die temalied en die name van die VRL te leer,” vertel Isabella.
Avery noem ook hoe sy elke oggend 04:20 moes opstaan, sodat haar ma haar met haar hare kon help. Alhoewel slaap duidelik ‘n geminagte aspek gedurende hierdie week was, het die namkwamme steeds vol ywer probeer om die beste indruk van hulself by hul nuwe skool te wek.
“Dit was so lekker om die Bloemhoffers en Paul Rosers te sien optree. Talent was daar beslis en waar sommige opvoerings uitstekend was, was daar ook ‘n paar waar jy skaars jou lag kon inhou,” vertel Avery.
Avery en Isabella stem albei saam dat die talentaand by Paul-Roos een van die hoogtepunte van die week was. Ja nee, wat is dan nou meer opwindend as om jou “boeties” vir die eerste keer te ontmoet?
Isabella het tot ‘n gedig aan die Paul Rosers voorgedra. “Ons mag nie eintlik gelag het nie, maar wie kan nou hulle lag inhou as die matrieks se kaalkoppe vergelyk word met eiers?” giggel sy na die tyd.
In ‘n kort gesprek met Tachin Adams in die tweede skoolweek, het sy ook genoem dat dit nie aldag vir die VRL maklik was om hulle pose te hou nie. “Die vertonings wat die namkwamme die tweede dag moes uitdink was veral snaaks. Daar was tot van die graad agts wat gedink het dat Prins nie ‘n kat was nie, maar ‘n regte prins!”
Bloemhof, ons het seker almal in graad agt daardie een VRL-lid gehad waarvoor ons tot agter-die-deur-wegkruip bang was. Wel, vir Avery was dit Melite Stimie. Blykbaar het Melite ‘n sekere “kyk” bemeester wat haar laat lyk asof sy jou enige oomblik gaan uitskel. Maar voordat enigiemand aangespreek word; daar was gelukkig nie net gebibber-en-bewe gedurende die verwelkomingsweek nie.
Elke negatief het ‘n positief, en vir elkeen van ons wat ‘n vrees vir ‘n sekere VRL-lid gehad het, was daar gelukkig ook een wat bereid was om te troos as alles net te veel geraak het. Glo dit of nie Avery, maar Isabella beweer dat Melite en t Tamryn Rousseau, die twee vriendelikste VRL-lede is.
So het elkeen van ons ander ervarings wat uiteindelik daartoe bydra dat ons almal unieke mense is. Aan die einde van die onderhoude is daar vir Isabella en Avery gevra wat hulle gedink het ‘n namkwam is toe hulle die naam die eerste keer gehoor het. Eers het hulle gedink dit was ‘n soort aap, of miskien ‘n vergelyking met een of ander gedierte, maar Tachin kon op die ou einde vir ons bevestig dat dit na ‘n legkaartstukkie verwys.
Soos die VRL se missie vir vanjaar se: “Eenheid deur Uniekheid.” Op die ou einde is ons nie net by hierdie skool om aan onsself te werk nie, maar het ons ook hierdie skool gekies om deel te vorm van ‘n groter prentjie – die passie, trots, en ja – daardie cliché woordjie – die susterskap.
Tachin se raad aan die graad agts was die volgende: “Moenie bang wees om uitdagings aan te pak nie, volg altyd jou drome en hou altyd jou kop hoog, maak nie saak wat nie.”
Onthou, graad agt tot twaalf, of jy nou al jou plek gevind het in die Bloemhof-legkaart of nie – moenie huiwer om jouself te wees nie. Soos Tachin sê: “Hou jou kop hoog”. Sonder jou sal die legkaart nie voltooid wees nie. Ons is hier vir iets groter!


