Catherine Kies
Reg deur die geskiedenis tot nou is vroue besig om ’n bydrae te lewer tot die wêreld van wetenskap.
Geskiedenis is vol vroue wat enorme bydraes gelewer het tot die wetenskaplike gemeenskap. Sommige van hulle, soos Marie Curie, Katherine Johnson, Jane Goodall en Rosalind Franklin, is met reg bekend. Tog is daar baie vroue wat nie so bekend is nie, maar bydraes gelewer het wat die wêreld waarin ons vandag leef, help vorm het.
Dorothy Hodgkin het die struktuur van insulien ontdek. Dorothy is in 1910 in Kaïro as die oudste van vier dogters gebore. Sy het ’n staatskool bygewoon waar slegs seuns toegelaat is om Chemie as vak te neem, maar ten spyte hiervan het sy daarvoor ingeskryf. Later is sy by Oxford aanvaar waar sy in 1932 ’n honneursgraad in chemie verwerf het. Sy het ook haar doktorsgraad aan Cambridge in 1936 verwerf, waarna sy navorsing oor die struktuur van cholesterol en penisillien gedoen het.
Haar navorsing het gelei tot baie industriële kontrakte en vanaf 1950 het sy in haar navorsing op die struktuur van insulien begin fokus en die eerste model van die insulienmolekule gebou. In 1964 het sy die Nobelprys vir Chemie ontvang vir haar navorsing. Sy is die derde vrou aan wie ’n Nobelprys vir Chemie toegeken is en die vyfde vrou wat ’n Nobelprys vir Wetenskap ontvang het.
Sophia Louisa Jex-Blake was een van die ‘Edinburgh Sewe’ wat baklei het om Medies te studeer. Sophia is in 1840 in Hastings, Engeland, gebore en het tot die ouderdom van agt tuisonderrig ontvang. In 1869 het sy ’n opstel gepubliseer, ‘Medies as ’n beroep vir vrouens’, maar aangesien geen Mediese skool vroue sou aanvaar nie, het Sophia haar saak in Skotland bepleit. Alhoewel die Fakulteit en Akademiese Senaat haar toelating ondersteun het, is dit deur die Universteitshof verwerp, op grond daarvan dat die universiteit nie die nodige reëlings kon tref ‘in belang van een dame’ nie.
Na ’n groot gesukkel is sy en ses ander vroue toegelaat om die universiteit by te woon, maar in Januarie 1872 het die Universiteitshof besluit dat selfs al sou die vroue die kursus voltooi en al die eksamens slaag, hulle nie mediese grade kon kry nie. Sophia is in Maart 1874 na Londen waar sy die ‘London School of Medicine for Women’ gestig het en as hoof van die skool gedien het terwyl sy self ook een van die studente was. In Januarie 1877 het sy haar finale eksamen geslaag en was sy die derde vrou in Brittanje om aan te sluit by die Algemene Mediese Raad.
Cecilia Payne-Gaposchkin was ’n sterrekundige wat die samestelling van sterre ontdek het.
Cecilia was ’n vrou van vele eerstes: sy was die eerste vrou wat ’n doktorsgraad van Radcliffe College ontvang het, die eerste vrou wat ’n professor by Harvard was en die eerste persoon wat die samestelling van sterre ontdek het. Cecilia is op 17 uit haar hoërskool geskors, maar is steeds aanvaar by die St.Paul’s School for Girls in Londen. Na ’n rowwe jaar vol bewegingsvergelykings, termodinamika en sterrekunde is sy by Cambridge aanvaar. Sy het eers die destydse tradisie gevolg van ’n vrou wat plantkunde studeer, maar het van rigting verander nadat sy een van Arthur Eddington se lesings bygewoon het. Cecilia het haar hoofvak na Fisika verander en het in haar vrye tyd baie navorsing oor Sterrekunde gedoen.
Nadat sy haar graad ontvang het, het sy ’n beurs gekry van Harvard College Observatory. Cecilia het dadelik begin werk en het gedoen wat vele sterrekundiges voor haar probeer doen het. Sy het vasgestel dat waterstof baie meer algemeen in die heelal voorkom as wat die astronomiese gemeenskap geglo het. Niemand wou glo dat ’n vroulike nagraadse student so ’n belangrike ontdekking kon maak nie.
Die destydse dekaan van Amerikaanse Sterrekunde was Henry Norris Russel en hy het aan Cecilia geskryf om te sê dat haar bevindings duidelik onmoontlik is. Gevolglik het sy in haar boek ‘Stellar Atmospheres’ tot die gevolgtrekking gekom dat haar resultate beslis nie waar kan wees nie. Jare later het Russel erken dat Cecilia reg was en is sy aangestel as ’n Professor in Sterrekunde by Harvard.
Lise Meithner het bygedra tot die ontdekking van kernsplitsing. Lise is in 1878 in Vienne gebore. Teen die 1930’s was Lise baie belangrik, nie net omdat sy een van die min vroue was wat toegelaat is om in wetenskap te werk nie, maar ook omdat sy die beste kernwetenskaplike in Duitsland was. Lise was van Joodse afkoms en toe die Nazi’s in 1938 aan bewind gekom het, is sy gedwing om te vlug. Later daardie jaar, terwyl sy in Stockholm was, is sy vertel van die jongste resultate wat haar voormalige kollega in Duitsland bekom het oor die radioaktiewe verval van uraan. Sy het toe iets besef waaraan hy nie gedink het nie: dat uraan besig was om kernsplitsing te ondergaan (die atoom verdeel en geweldige hoeveelhede kernenergie word vrygestel).
Sewe jaar later is dieselfde proses van kernsplitsing geaktiveer binne ’n bom genaamd ‘Little Boy’, wat op die Japannese stad, Hirosjima, gegooi is. Die res van die storie is geskiedenis.
Marie Curie het twee Nobelpryse ontvang vir haar werk in kernfisika en sy het ’n chemiese element wat na haar vernoem is, maar Lise se ontdekkings, wat fisies aardskuddend was, is baie minder bekend. Lise is nooit ’n Nobelprys toegeken nie, maar sy het ook haar eie element, Meitnerium. Volgens Albert Einstein was sy Duitsland se eie Marie Curie.
Selfs vandag is vroue grootliks onderverteenwoordig in STEM (“Science, Technology, Engineering and Mathematics”)-beroepe. Wetenskap bly ’n manlik-gedomineerde veld met ’n wanbalans wat van universiteitstudente tot in leierskapsvlakke voorkom. Daarom is dit steeds belangrik om vandag se vroue en hulle prestasies en ontdekkings in wetenskap te vier.
Jennifer Doudna is die ontwikkelaar van CRISPR. Jennifer word gesien as ’n baanbreker in mediese tegnologie vir haar ontwikkeling van CRISPR. Jennifer is nou een van die bekendste lewende wetenskaplikes. Haar navorsing sal wetenskaplikes toelaat om akkurate wysigings aan DNS in selle te maak, wat dit moontlik kan maak om genetiese misvormings en siektes te genees.
Studies het getoon dat CRISPR-tegnologie gebruik kan word om die DNS van HIV in menslike selle te verander. Alhoewel dit inderdaad revolusionêr is, veroorsaak dit ernstige etiese kommer, veral as dit op mense gebruik sou word, maar indien dit op die regte manier gebruik word, kan dit ons help om selsiektes te genees wat voorheen as ongeneeslik beskou is.
Sedert 2018 beklee Jennifer die pos van senior ondersoeker by die Gladstone Institute en is sy ’n professor aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco en Berkeley. In 2020 het Jennifer en haar kollega, Emmanuelle Charpentier, die Nobelprys vir Chemie ontvang en later daardie jaar, toe die COVID-19 pandemie die wêreld verswelg het, het belangstelling in Jennifer se werk toegeneem, aangesien dit belowende resultate getoon het in verdediging teen aansteeklike virusse.
Cynthia Kenyon het ’n mutasie in gene wat die lewensduur van ’n organisme kan verdubbel, ontdek.
Wou jy al ooit vir ewig lewe? Molekulêre bioloog Cynthia Kenyon het dalk die antwoord. Dit is nie ’n baie eenvoudig oplossing nie, maar haar genetiese studies rakende die veroudering in C. elegans-wurms wys ons dat dit moontlik is om organismes langer te laat lewe. Sy het gevind dat ’n daf2-hormoon-reseptormutasie die lewensduur van ’n wurm verdubbel sonder om die kwaliteit van die wurm se lewe te beïnvloed.
Die mees indrukwekkende deel van Cynthia se studies is dat wanneer dit op muise herhaal word, dit dieselfde effek het. Aangesien muise soogdiere is, is dit moontlik dat dieselfde effek in mense gevind kan word. Nog ’n verbasende resultaat wat gevind is gedurende haar navorsing, is dat organismes met die daf2-mutasie minder geneig is om verouderingsiektes soos Alzheimers, kanker of hartsiektes te kry.
Hierdie ontdekkings het meer as twee dekades gelede plaasgevind. Vandag werk sy met Google se Calico met die doel om die mens se lewe met 100 jaar te verleng.
Nina Tandon is die medestigter van die heel eerste maatskappy wat menslike bene vir rehabilitasie kweek. Nina Tandon is ’n biomediese ingenieur wat besig is om die wêreld van selwetenskap te verander. Sy is die stigter en uitvoerende hoof van EpiBone, ’n maatskappy wat bene groei vir skelet-rekonstruksie. Dit stel praktyke in staat om been-defekte by mense te herstel deur die pasiënt se stamselle te gebruik om nuwe gesonde bene in ’n laboratorium te laat groei.
Die bene kan op presiese afmetings gemaak word om perfek in die pasiënt se liggaam te pas. Dit beteken ook dat die pasiënt se immuunstelsel die nuwe been sal aanvaar, eerder as om daarteen te veg. Verbasend genoeg kan die been aanhou groei, wat beteken dat kinders met beendefekte se liggame normaal kan ontwikkel. Nina was ook betrokke by die bou van kloppende harte met dieselfde metode.
Die werk wat Nina doen, is verstommend en kan ’n groot impak hê om ons nou, sowel as in die toekoms, gesond te hou.
Dit is net ’n paar vroue wat ‘n groot rol gespeel het en steeds speel in wetenskap. Ons as Bloemhoffers vorm deel van die volgende generasie van vroue in wetenskap, besigheid, kuns, regte en vele ander beroepe. In die oë van die wêreld speel vroue nog altyd die tweede viool wanneer dit by wetenskap kom, maar dié besonderse vroue bewys dat jy ’n verskil kan maak in die wêreld waarin ons nou leef en wat sal bestaan vir die volgende generasies.