Hommeltuig
Hommeltuig. Foto: unsplash.com

Vreemde en ongewone beroepe

Het jy al ooit gewonder hoe dit sou wees as jy elke dag ’n meermin kon wees? Of as jy ’n visserman kon wees, maar in plaas van visvang, vang jy fietse? Het jy al ooit daaraan gedink dat jy geld kan maak as jy erdwurms versamel?

Hier is ses van die mees ongewone, unieke en vreemde beroepe wat jy deesdae kan teëkom.

  1. Fiets vissers

In Amsterdam is die hoofvervoermiddel fietse. Daar is volgens Dutch Review ongeveer 881 000 fietse in Amsterdam, so dit is dus nie verbasend dat minstens 13 500 fietse jaarliks in Amsterdam se vele kanale beland nie. Die ‘fiets vissers’ moet seker maak dat die fietse, wat bote kan beskadig, nie in die kanale bly lê nie.

  1. Professionele rouer (‘Moirologist’)

Professionele rouers is mense wat betaal word om by iemand se begrafnis te huil, en sodoende ’n droewige atmosfeer skep. Die beroep bestaan al vir eeue lank. In antieke tye was dit ’n statussimbool om baie mense by jou begrafnis te hê, dus het ryk families professionele rouers betaal om begrafnisse by te woon.

Deesdae hoef rouers egter nie luidrugtig te huil of oordrewe gebare te maak nie, hulle moet net hartseer wees en die familie troos, of ’n paar woorde oor die oorlede persoon sê. Rouers kan ongeveer R513 tot R2 566 per begrafnis betaal word.

  1. Lynstaner

’n Lynstaner is iemand wat jy betaal om in ’n ry vir jou te staan en wag. Hulle hou jou plek in ’n ry, en laat weet jou wanneer die ry kort genoeg is dat jy kan kom. Hulle is gewoonlik mense met baie vrye tyd, en kan R100 tot selfs R400 per uur maak. Om ’n lynstaner te kry sal die frustrasies, wat saam met die lang rye by Binnelandse sake kom, definitief verminder.

  1. Wurmversamelaar

’n Wurmversamelaar is iemand wat deurnag by plase of velde werk om erdwurms te versamel. Hulle verkoop die erdwurms dan aan vissermanne of visvangbesighede om as aas te dien. Sommige universiteite of maatskappye koop erdwurms vir navorsingsdoeleindes. Wurmversamelaars word per kilogram betaal en kan tussen 10 kg tot 50 kg wurms per aand versamel. Een kilogram word vir ongeveer R220 verkoop, so wurmversamelaars kan nogal baie geld maak vir vroegoggend wakker bly.

  1. Professionele meerminne

Professionele meerminne is mense wat in ’n meerminkostuum onderwater toertjies doen. Hulle moet hulle asems lank kan ophou en moet gemaklik daarmee wees om in vars- en seewater ’n vertoning te gee. Meerminne tree gewoonlik by kinderpartytjies of akwariums op, maar hulle kan selfs aan meerminswemkompetisies deelneem.

  1.  Hommeltuig-vlieënier

’n Hommeltuig-vlieënier (of in Engels ’n ‘drone pilot’) is iemand wat weet hoe om ’n hommeltuig veilig en effektief te bestuur. Hommeltuig-vlieëniers weet hoe om goeie lugfoto’s en video’s te neem, so dus is hulle in aanvraag by landboupraktyke, filmmakers en sommige advertensiemaatskappye. Hommeltuie kan selfs gebruik word om kragpale te inspekteer of om te help by reddingspogings in onbekende terreine. Hommeltuie kan vanaf R850 tot R171 200 kos, en vlieëniers kan ongeveer R1 500 per uur vra.