Vloede in Pakistan
Vloede in Pakistan. Foto: redcross.org

Vloede in Pakistan

Twee van ons joernaliste het verslag gelewer oor die vloede wat hierdie jaar in Pakistan groot vervoewsting veroorsaak het:


Die realiteit van die vloede in Pakistan

Samantha Rossouw

In Junie hierdie jaar het ons van die uiterste vloede wat meer as een derde van Pakistan onderwater gelaat het, begin gehoor, maar weet ons werklik wat die gevolge is vir nie net die mense van Pakistan nie, maar ook vir jou en vir my?

Vir Pakistan beteken dit dat meer as 33 miljoen mense se daaglikse lewens op een of ander manier totaal verander het. Meer as 1 300 mense is dood as gevolg van die vloede; 6,4 miljoen mense benodig hulp van humanitêre organisasies en 1,7 miljoen huise is beskadig. ’n Nasionale noodtoestand is in Pakistan afgekondig.

As gevolg van hierdie onvoorspelde en aanhoudende vloede het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gewaarsku dat die verspreiding van water- en ander oordraagbare siektes sal toeneem en miljoene mense kwesbaar sal laat. Daar is ook gewaarsku dat ’n hongersnood sal volg as gevolg van die oorspoeling van plase. 

Die oorsaak van hierdie ramp verdien egter ’n groter fokus. Navorsers sê dat daar vele faktore gelei het tot Pakistan se toestand in Junie. Uiterse hoë temperature in April en Mei het daartoe gelei dat Pakistan die warmste land ter wêreld was met temperature wat tot in die 50 ˚C’s gestyg het. Aangesien warm lug meer vog hou, word daar geglo dat hierdie temperature gelei het tot abnormale reënvlakke hierdie jaar. Die suide van Pakistan het so ver hierdie seisoen ’n 464% hoër reënval gehad as die gemiddeld van die afgelope 30 jaar. 

Hierdie hitte het ook veroorsaak dat gletsers op die noord bergagtige streke teen ’n gevaarlike spoed gesmelt het. Dit beteken dat groot volumes water in die Indusrivier (die grootste rivier in Pakistan) beland het, wat tot sy oorstrooming gelei het.

Wetenskaplikes weet dat daar een faktor is wat vir al die res verantwoordelik is: mens-geïnduseerde aardverwarming. Dit is belangrik dat ons nie die gebeure in Pakistan en ander dele van die wêreld ignoreer nie, maar eerder daaruit leer.

Vir jou en vir my is hierdie ’n waarskuwing.


Vloede in Pakistan

Jeani Steenkamp

Pakistan, ’n land wat net 1% tot die totale globale koolstofdioksiedvrystellings bydra, het vanjaar ’n klimaatskrisis ervaar. 

Hierdie krisis het 33 miljoen inwoners (15% van Pakistan se inwoners) negatief beïnvloed. Hierdie jaar se reënval is deur die Verenigde Nasies se Sekretaris-Generaal as ’n monsoon on steroids beskryf. Omdat daar reeds ’n derde van die land met water bedek is, is die land in ’n kwesbare posisie.

Volgens Environment & Impact het boere in die verlede voordeel getrek uit die monsoon-seisoen, maar nadat dit meer as drie keer die gewone hoeveelheid in die laaste drie jaar in Pakistan gereën het, en dele van die land heeltemal hervorm word, is dit geen positiewe gebeurtenis nie. 

Die vloede het ’n massiewe meer veroorsaak wat vanuit die ruimte gesien kan word. Dit is deur die Indusrivier en die Hamalmeer, wat meer as 62km uitmekaar was, gevorm. 

Die land se geografiese ligging en oorloë waarin die land gewikkel is, veroorsaak dat Pakistan een van die kwesbaarste lande vir klimaatsverandering is. 

Op 8 September was die dodetal 1 300 mense, waarvan 458 kinders is. Regoor die land het 17 566 skole skade aangemeld. 128 000 swanger vroue was op soek na dringende mediese hulp.

Huise, vee, landerye en voertuie is weggespoel, en duisende mense is dakloos gelaat, waarna hulle dan moes huis oprig langs hoër liggende paaie. Die skade aan infrastruktuur en ander elemente word om ongeveer $30 miljard geskat.

Volgens News24 veroorsaak aardverwarming nie net rekord-brekende vloede en stormsterkte wind en reën nie, maar dit veroorsaak ook dat yspieke smelt, wat die watervlakke verder verhoog.