Janke Marais
Die eeuelange euwel: die behoefte om “in” te wees. O, dit wat ons nie sal gee om aesthetic te wees en ’n klerekas te hê waarop Bella Hadid trots sal wees nie (maak nie saak van Ma se begroting nie)! Dit blyk egter of huidige modetendense net so lank duur soos die 15 sekonde “TikTok”-video’s wat dit alles begin het. Ons besef egter nie hoe skadelik hierdie konstante veranderlike modetendense vir ons omgewing is nie. Ons verkies om die feite te ignoreer, maar dit is nodig dat ons aan die gevare begin dink.
Wat is ’n neiging of ’n tendens, of soos die meeste van ons dit ken – ’n trend?
Illustrasie deur Ilona Hess
In die potgooi, “Anything goes with Emma Chamberlain” verduidelik Emma in die episode There is a culture shift coming (Part Three: Trends) die lewensiklus van ’n tendens. Dit begin wanneer ’n invloedryke persoon iets op sosiale media plaas en dit aan die publiek bekend stel. Verbruikers besluit dan dat hulle van hierdie produk hou en die vraag daarna teen ’n verbasende spoed verhoog. Elke keer glo ons dat hierdie nuwe styl of tipe denimbroek vir altyd in die mode sal wees, maar ons word telkens verkeerd bewys. Die rede hiervoor is dat die vraag daarna begin daal omdat so baie mense dieselfde items besit en so begin ’n nuwe neiging. Dit is ’n nimmereindigende siklus.
Deur die geskiedenis sien ons hierdie siklusse van modetendense, maar in moderne tye sterf modes baie vinniger uit. Die hoofrede hiervoor is sosiale media, soos die toepassings “Instagram” en “TikTok”, wat ironies genoeg ook verantwoordelik is vir die ontstaan van dié neigings.
Voorheen het modes vyf tot tien jaar geduur. Hoe lank duur vandag se modes? Slegs ’n paar weke of enkele maande. Die term vir hierdie vinnig sterwende modes is mikro-tendense. Klere is net vir ’n kort tydperk gewild voordat dit as oudmodies of lelik beskou word.
Ons besit vyf keer meer klere as wat ons grootouers besit het as gevolg van die dalende produksiekoste van klere oor die afgelope 20 jaar. In werklikheid veroorsaak ’n konstante vermindering van produksiekoste, ’n opeenhoping van goedkoop kledingstukke wat ernstige gevolge vir ons gesondheid, ons planeet en kleremakers se lewens inhou.
Syfers en statistieke mag dalk vervelig voorkom, maar ons moet ag slaan daarop. Daar word jaarliks 80 miljard kledingstukke geproduseer. Klereproduksie het oor die afgelope 20 jaar met 400% vermeerder. Vroue dra gemiddeld slegs 20-30% van die klere in hul klerekas. Die rede hiervoor: kleretendense. Ons wil nie klere dra wat nie meer gewild of in die mode is nie. Ons wil nie deur ander veroordeel word nie.
Dit is dus nie moeilik om te glo dat die mode-industrie die tweede grootste besoedelaar, ná die oliebedryf, is nie. Die konsep van “vinnige mode”, of fast fashion, het ’n katastrofiese impak op ons hulpbronne, ons samelewing en ons omgewing.
Dit is noodsaaklik dat beperkte hulpbronne reg benut word, maar dit is ongelukkig nie die geval in ons modebedryf nie. Volgens die artikel, How Fast Fashion Affects The Environment deur Mazharul Kiron, gepubliseer op 15 Februarie 2021, word noodsaaklike hulpbronne in die proses van klereproduksie vermors, veral water. Dit neem 20 000 liter water om 1kg katoen te produseer. Talle waterspesies word in gevaar gestel deur die giftige afvalwater wat deur klerefabrieke gestort word, wat ook uiters gevaarlik is vir die menslike gesondheid. Aangesien die lewensduur van “vinnige mode” baie kort is, word kledingstukke vinniger in die omgewing gestort as wat dit neem om gemaak te word.
Klere moenie as weggooibaar beskou word nie. Belegging in tydlose noodsaaklikhede, wat meer geneig is om in die kas te bly, is ’n goeie manier om onnodige vermorsing te bekamp.