Purple Hearts
Purple Hearts. Foto: tvinsider.com

Purple Hearts – die film op almal se lippe

Purple Hearts is ’n Netflix-sensasie wat kykers se hartsnare roer en reeds verskeie Bloemhoffers verlief gemaak het op Nicolas Galitzine, of soos die meeste hom ken – Luke. 

Wie sal nou nie daarna wil streef om ’n verhouding soos dié van Luke en Cassie te hê nie? Dis ’n klassieke valse verhouding wat in ware liefde ontaard, maar ook sóveel meer. In ’n oomblik van desperaatheid stem Luke – ’n mariene soldaat – in om met Cassie – ’n sukkelende musikant – te trou sodat sy haar mediese uitgawes kan bekostig. Mettertyd begin die lyne tussen voorgee en werklike gevoelens egter al hoe dowwer raak.

Cassie word gespeel deur die talentvolle aktrise en sangeres Sofia Carson, bekend vir haar rolle in die Descendants-films en Feel the Beat waarin sy haar karakter telkens met baie diepte uitbeeld. Elkeen kan op hul eie manier met Cassie assosieer. Sy wys ons dat jy jou drome met harde werk kan bereik en dat ons deur moeilike tye hoop moet behou. Cassie is ’n sterk vrou wat bankvas agter haar waardes staan en haarself nie vir ’n man sal verander nie.

Ten spyte van hul verskille, is Cassie en Luke die perfekte paartjie. Luke, gespeel deur Nicolas Galitzine, is elkeen se droomman, al het hy nie die perfekte lewe nie. Hy het nie die beste verhouding met sy pa nie en het ’n geskiedenis van dwelmmisbruik. 

Luke en Cassie moet verskeie struikelblokke oorkom, insluitend afstand, families en om ’n woonstel te deel, maar hulle kom elke keer sterker aan die anderkant uit en laat kykers weer in ware liefde glo. 

Alhoewel Cassie se haarstylkeuses partykeer ’n bietjie twyfelagtig is, sal Purple Hearts en die talentvolle akteurs jóú hart steel.