Bron: Klub Momentum

Prestige 2023

Wanneer byna 2000 Bloemroos-leerders saam op die pawiljoen omdraai om een van die legendariese Bloemroos-krete te sing, weergalm nie net die stemme en die stampende voete deur die hele stadion nie, maar ook die band wat tussen dié broer- en susterskool bestaan: ‘n band wat nie sommer elders gevind word nie.

Die sweet, trane en hoendervleis in die warm Paarl-son sal altyd soveel meer as die puntetelling beteken, maar steeds het Bloemhof uitstekend gevaar! Die o.15’s breek ses rekords. Simone van der Merwe by die 800 m, Daniela Viljoen by die 800 m en 1500m, en Pippa Viljoen by die 200 m en 400 m. Ook by die 4 x 100 m aflositem breek die dames die rekord. Lana Oberholzer én Mignonne de Beer breek ook die rekord by die o.17 100 m hekkies deur onderskeidelik eerste en tweede in hierdie item te kom.

Bron: Klub Momentum

Bloemhof verower 18 goue medaljes, 18 silwer en 17 brons medaljes. Ons baadjietrots en die klipharde, onophoudelike geeskrete het aan elke laaste Bloemroos-leerder die energie verleen om so effens vinniger te hardloop, verder te spring en verder te gooi. Selfs die dansers was dankbaar toe Bloemroos aanhou juig het ongeag die tegniese probleme wat krummelkrag veroorsaak het. Tot Fidel en Paul Roos het gedurende die dag saam die musiek en gees geniet!

Vir baie van die jonger leerders was dit ‘n eerste ervaring, een wat hulle vir ewig sal koester, maar die matrieks se stemme en harte was die heel seerste toe hulle een laaste keer die skoollied by Prestige moes sing.


‘n Derde plek bly altyd ‘n voorreg indien dit in die maroen- en navybaadjies verower is.

Bron: Klub Momentum

Lees meer: