Mia, haar susters en haar ouers (regs). Carla & Antoin. Foto_ Verskaf.
Mia, haar susters en haar ouers (regs). Carla & Antoin. Foto_ Verskaf.

Oud-Bloemhoffer studeer tussen die Aussies

Oud-Bloemhoffer, Mia Janse van Rensburg, bly en studeer in Perth, ‘n stad in Wes-Australië. Sy studeer by the Universiteit van Notre Dame. Mia het in 2020 saam met haar gesin na Australië geïmmigreer en studeer sedertdien daar. Sy is tans in haar laaste semester van haar derde jaar in voorgraadse studies in Biomediese Wetenskappe (Undergraduate Degree: Bachelor of Biomedical Sciences) en het onlangs aansoek gedoen vir nagraadse medies. 

Daar is soveel Bloemhoffers wat droom om eendag oorsee te studeer, maar onseker is of dit enigsins ‘n moontlikheid kan wees. Ons gesels met Mia Janse van Rensburg  om meer uit te vind oor haar ervaring van anderkant die water. Lekker lees en hopelik word van jou vrae beantwoord!

Wat het jou laat besluit om oorsee te studeer?

Ek het in 2008-2012 vir die eerste keer in Australië gebly saam met my familie, en in die tyd burgerskap gekry. Alhoewel ons teruggekeer het na Suid-Afrika was die idee altyd om terug te gaan na Australië vir meer internasionale geleenthede.  Ek het ‘n week na my  matriekuitslae teruggevlieg en begin 2020 my studies aan die Universiteit van Notre Dame begin.  

Hoe het jy besluit op hierdie spesifieke land en/of universiteit?

Omdat my gesin burgerskap vir Australië het, was dit die opsie wat die meeste sin gemaak het. Daar is ook baie Suid-Afrikaners in Perth, wat die aanpassing makliker gemaak het. Die universiteit waarby ek is, is ’n Katolieke universiteit, met waardes wat meer in lyn is met my eie persoonlike waardes. Die universiteit  is ook bekend vir hulle persoonlike verhoudinge met studente, wat vir my belangrik was. 

Was dit ‘n moeilike proses om aansoek te doen? Is ‘n baie hoë akademiese gemiddeld noodsaaklik vir keuring?

Dit was nie noodwendig ’n moeilike aansoekproses nie, daar was net baie meer stappe as wat ek verwag het. Die personeel by die universiteit was wel baie hulpvaardig en het al my vrae per e-pos beantwoord. 

My matriekuitslae moes verwerk word na die Australiese formaat waarin ATAR punte gegee word aan vakke. 

Alhoewel ‘n hoë akademiese gemiddeld definitief iets is waarvoor jy moet mik, is daar  wel baie opsies vir studies as jou punte nie die heel beste is nie. Doen net jou beste, en vind uit van al jou opsies, dit sal die moeite werd wees!

Verskil jou universiteitsopleiding baie van die van jou vriendinne wat tuis studeer?

Wat ek kan aflei, is dat die inhoud van ons studies nogal soortgelyk is, maar ek dink die studente-kultuur is heelwat anders. Daar is ook ander geleenthede hier, insluitend die opsie om deeltyds te werk. Meeste mense wie ek ken, betaal vir hul eie studies, en ondersteun hulself, dit is net moontlik omdat meeste mense reeds op 14 deeltyds begin werk en self begin spaar. Dit was vir my ’n vreemde konsep, maar ek hou baie van die onafhanklikheid wat dit toelaat. Ek het tans twee deeltydse werke, ek werk in die semester net 12 ure per week maar in die vakansietyd werk ek tussen 30 en 45 ure per week.

Is daar enige ander Suid-Afrikaners wat jy ken daar?

Ja, ’n hele paar. ’n Groot hoeveelheid van die mense by my kerk is Suid-Afrikaans, en ek hoor omtrent elke dag iemand Afrikaans praat as ek in die stad of by die universiteit rond stap.

My kêrel en sy familie asook ’n hele paar van my vriende, is Suid-Afrikaners. Nie almal praat nog Afrikaans nie, maar dit is lekker dat almal in dieselfde kultuur grootgeword het. Dit voel asof ons mekaar beter verstaan.

My eerste deeltydse werk in Perth was by ’n Suid-Afrikaanse winkel “Mufasa”, ek werk nie meer daar nie, maar dit was ’n  verrykende ervaring.

Wat was vir jou die grootste aanpassing op akademiese vlak? Voel jy dat jou Suid-Afrikaanse skoolopvoeding jou goed genoeg voorberei het vir studies oorsee?

Hmmmm, die grootste aanpassing was definitief om in Engels te studeer! Ek weet die universiteite in Suid-Afrika is ook Engels, maar ek kon nie hier vir enige iemand vra wat die Afrikaanse vertaling vir iets was nie. Ek is wel baie dankbaar dat ek by Bloemhof skool gegaan het. Dit het my baie goed voorberei en ek het definitief die basiese konsepte verstaan, waarop ek verder kon bou toe ek met my studies begin het. 

Universiteit is definitief baie meer werk as skool (haha), al die onderwysers sê dit altyd, maar dit was nogal ’n aanpassing. Dit is steeds iets om na uit te sien, mens moet net probeer bybly.

Wat was die grootste aanpassing wat jy op sosiale vlak moes maak?

Die kultuurverskil was ’n skok toe ek aanvanklik hier aangekom het, en ek het niemand geken toe ek by die universiteit begin het nie. Al raad wat ek kan gee, is om deel te neem aan soveel aktiwiteite as moontlik aan die begin van die jaar, want mens ontmoet baie mense en vorm vinnig vriendskappe. 

Meeste studente in Perth bly nie in ‘n koshuis nie, dit is meestal mense wat van buite die stad af kom (meer as 2 ure weg). Ek het in my eerste twee jaar in ’n koshuis gebly (wat baie lekker was) en dit was ’n goeie geleentheid om nuwe mense te ontmoet en deel te neem aan ekstra aktiwiteite. Ek sou definitief voorstel om in ’n koshuis te bly as jy kan, dit maak die aanpassing baie makliker.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Definitief die mense! My skoolvriende (ons gesels nog op Whatsapp maar ek mis dit om hulle gereeld te sien) en my ouma en oupa-hulle. 

Ek mis ook die kos (veral die lekker restaurante in Stellenbosch) en die koffie (dit proe anders hier!).

Hoe gereeld kan jy teruggekeer Suid-Afrika toe om jou familie of vriende te sien?

COVID-19 het dit bietjie moeilik gemaak, maar ek het al een keer kom kuier vandat ek hiernatoe getrek het, in Junie 2022. My gesin het saam met my na Perth getrek so ek was darem nie lank weg van hulle af nie. Vliegtuigkaartjies is ook baie duur op die oomblik en ek werk gewoonlik meer in my vakansies om spaargeld vir die semester te maak. 

Mia en haar susters. Claudi (links), Mia (middel), Arlene (regs). Foto: verskaf

Dink jy daaraan om te vestig daar waar jy studeer?

Ja definitief, met my gesin hier beplan ons om in Australië aan te bly. My jongste sussie, Claudi, is nou in graad 11 en my middelste sussie, Arlene, het laasjaar gematrikuleer en die jaar Aktuariële Wetenskappe begin swot.

Is daar enigeiets spesifiek wat jy geleer het in jou tyd as Bloemhoffer wat nou behulpsaam is tydens jou studies?

Bloemhof het definitief vir my geleer hoe belangrik goeie werksetiek is. Ek is dankbaar dat die onderwysers ons so mooi ondersteun het en aangemoedig het om ons heel bes te gee. Bloemhof het ons ook altyd aangemoedig om ’n gebalanseerde leefstyl te hê, deur deel te neem aan sport en kultuuraktiwiteite en om gelyktydig ons akademie te prioritiseer. Ek het ook die waardes eerlikheid en respek by Bloemhof geleer.   

Sal jy Bloemhoffers aanmoedig om aan te hou droom om oorsee te studeer en hoekom?

Ja, verseker! Dit is so ’n opwindende tyd in ’n mens se lewe, ek moedig julle aan om die kans te vat as dit ’n droom is om oorsee te studeer. Dit is ’n wonderlike kans om ’n nuwe kultuur te ervaar en te reis terwyl jy nog jonk is. Doen baie navorsing en vind soveel uit as wat jy kan oor die universiteit en dorp waar jy wil studeer! Dit help baie as jou familie jou kan ondersteun en help met al die voorbereidings.

Ek sal definitief julle aanmoedig om aansoek te doen en te werk daarvoor! Ek is baie dankbaar dat ek die geleentheid het om hier te swot.