“Bitter in die mond, maak die hart gesond.”
My ma is vreeslik lief daarvoor om hierdie gesegde te gebruik wanneer ek of my sussies afskuwelike medisynes moet drink. Ek is van mening dat daar ’n baie beter manier as medisyne is om my liggaamlik, psigologies en sosiaal gesond te hou en dit is musiek.
Musiek is ’n universele taal wat almal verstaan en kan gebruik om te kommunikeer. Dis die verskaffer van «GEES» by interskole, ’n vorm van vermaak by musiekkonserte (selfs meneer Kitching geniet dit om na Stringendo te luister) en DIT kan ’n lieflike agtergrond by enige partytjie of, soos die meeste tieners dit noem, kuier skep. Daar is ook natuurlik kore, soos die wonderlike Accelerando Koor, karaoke en solo-sang – van eisteddfods tot die stort. Musiek is eenvoudig ’n fantastiese bind- en kommunikasiemiddel tussen mense en daar is werklik niks wat jou presiese emosie kan vasvang en verwoord soos ’n Taylor Swift-liedjie nie.
Hierdie sosiale voordele lei ook tot liggaamlike voordele, soos beter slaappatrone en ’n verbetering in jou gemoedstoestand. As ’n mens sukkel om te slaap is LOFI daar om te help en as jy deur ’n moeilike tyd gaan, is daar ’n Taylor Swift-liedjie wat presies beskryf waardeer jy gaan en jou laat beter voel. En as jy nou nog twyfel oor die noodsaaklikheid van musiek, neem asseblief kennis dat musiek jou minder laat eet en jou help om gewig te verloor. Dit klink asof ek nonsens praat, maar professors Wansink en Van Ittersum het dit in die tydskrif “Human Resources and Marketing” geskryf.
Die professors maak eintlik baie sin. As jy in ’n helder McDonalds sit en eet, eet jy vinnig en jy raak nie maklik vol nie. Maar in ’n rustige restaurant met sagte musiek en kerslig eet ’n mens stadiger en die kos word geniet. Musiek is die nuwe wonder dieet – wag maar en sien.
Die laaste en van die belangrikste voordele wat musiek inhou, is die sielkundige voordele. Dis eintlik vanselfsprekend en kom basies daarop neer dat musiek mense beter laat voel. Die dopamien wat deur musiek afgeskei word, verlaag letterlik mense se stresvlakke en laat hulle sodoende goed voel.
Bloemhof, musiek is die taal van die hart en dis net die hart wat dit verstaan. Dis die taal wat ons almal deel en ’n manier van ontsnap uit moeilike situasies. My ma se gesegde is ou nuus. Die beste manier van gesond word en gesond bly, is om na musiek te luister. Musiek in die oor is werklik wat die hart betoor.