Boeke

Mode vir die hedendaagse boekwurm

Vera van der Merwe

BookTok is ’n gemeenskap van TikTok-gebruikers wat video’s oor nuwe boeke op TikTok plaas – boeke wat hoofsaaklik op jong volwassenes gemik word en wat onlangs uitgegee is of in daardie afgelope jaar in gewildheid toegeneem het. Daar is al by boekwinkels soos Barnes & Noble en Exclusive Books afdelings genaamd: “BookTok Books”. In dié afdeling sal die volgende boeke byvoorbeeld gevind kan word: 

  • The Midnight Library’ deur Matt Haig
  • We were Liars’ deur E. Lockhart
  • Family of Liars’ deur E. Lockhart
  • They Both Die at the End’ deur Adam Silvera
  • You’ve Reached Sam’ deur Dustin Thao
  • The Summer I Turned Pretty’ deur Jenny Han
  • The Inheritance Games’ deur Jennifer Lynn Barnes
  • One of Us is Lying’ deur Karen M. McManus

Soos reeds genoem, is die boeke wat vandag in die mode is, nie eers noodwendig in hierdie jaar gepubliseer nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is ‘We were liars’ deur E. Lockhart wat oorspronklik in 2014 gepubliseer is en onlangs weer roem verwerf het as gevolg van die opvolg, ‘Family of Liars”, wat Lockhart vanjaar gepubliseer het. Hierdie reeks handel oor ’n familie wat hul geheime en leuens wegsteek op hul private eiland langs die kus van Massachusetts waar hul somervakansies spandeer. Na ‘We were liars’ se onverwagte en skokkende einde sal niemand kan wag om Lockhart se nuwe boek in die hande te kry nie.

The Inheritance Games’ is ’n reeks geskryf deur J.L. Barnes wat insluit: ‘The Inheritance Games’ (2020), ‘The Hawthrone Legacy’ (2021) en ‘The Final Gambit’ (2022). Hierdie reeks handel oor die 17-jarige Avery Grambs en haar lewe wat omgekeer word deur ’n miljoenêr, Tobias Hawthrone, se onverwagte keuse oor sy geldsake. Bloemhoffers beveel hierdie reeks sterk aan en baie sien uit vir die nuwe boek wat nog vanjaar sal verskyn.

The Inheritance Games

The Inheritance Games. Foto: goodreads.com

BookTok trek ook dikwels regisseurs se aandag. Onlangs was daar twee nuwe reekse wat verfilm is oor twee van die bogenoemde boeke: ‘The Summer I Turned Pretty’ deur Jenny Han en ‘One of Us is Lying’ deur K.M. McManus. Hierdie twee reekse het geweldig vinnig roemstatus verwerf en dit sal nie vreemd wees as jy verby ’n groepie vriende loop wat debatteer of hulle “team Conrad” of “team Jeremiah” is van ‘The Summer I turned Pretty’ nie. Nie net is die drama-reekse verskriklik opwindend nie, maar die boeke bevat ook vreeslike interessante gebeure.

Iets baie indrukwekkend van K.M. McManus se boek, ‘One of Us is Lying’, is dat die storie nie net vanuit een karakter se perspektief vertel word nie. Die aangrypende verhaal word vanuit vier karakters se oogpunte vertel en gee dus vir ons as lesers baie meer inligting oor die karakters se agtergrond en emosies.

J.K. Rowling, die bekende skrywer van die Harry Potter-reeks (1997-2007) het gesê: “I do believe something very magical can happen when you read a good book.” Daarom is dit veel beter as ‘n onderwyser vir jou moet vra om jou leesboek te bêre, as jou selfoon weg te sit.