Bloemhof Vlag

Interskole 2022

Die stemme het weergalm vanaf Markötter tot in Bloemfontein waar die ondersteuners nie net om die netbalbane en hokkievelde kamp opgeslaan het nie, maar trots vir hul skool geskree het oor ’n skerm. Die afgelope week, 18-20 Augustus 2022, het die matrikulante van beide Bloemhof en Oranje hul laaste en die graad 8’s, 9’s én 10’s hul eerste interskole teen die Hoër Meisieskool Oranje beleef. Wat ‘n belewenis was dit nie! 

Die stryd om die wenbeker het goed afgeskop met die landloop, waar die atlete ’n modderige roete van 4km moes aanpak. Beide skole het hul beste en taaiste meisies gestuur en dit het gewys met ’n gelykop telling van 105 punte elk. 

Albei meisieskole het uitstekende argumente voorgelê by die debat, maar Bloemhof het die kroon gekry deur beide die senior en junior afdeling te wen. 

Die kultuuroggend wat die debatte gevolg het, het asems weggeslaan en skaterlagte laat weergalm, maar die interskole het toe pas begin…

Die tennisballe het op al die tennisbane gevlieg. Die o.19A’s verloor 

8-4; beide o.19B en o.15’s speel 2-2 gelykop. 

Reën en gladde bane kon Bloemhof se netbalspelers nie stuit nie. Die eerste span word egter 20-24 deur die Oranjeniete geklop na ’n tawwe stryd.  

O/19C Hokkiespanne
O/19C Hokkiespanne. Foto: Elana Kruger

Die hokkie was óók ’n groot sukses, waar al die dames hul beste gegee het. Welgedaan aan die Oranje-meisies wat die eerste span 5-0 geklop het.

Oranje wen die skaak 1,5-4,5, terwyl Bloemhof die tafeltennis 7-4 wen.

Skaak
Skaak. Foto: Joscelynn van Wyk

Bloemhoffer of Oranjeniet, met trots kan gesê word dat Interskole 2022 een sal wees wat nie gou vergeet sal word nie. Nie net was die yskoue reën, terwyl jy jou broer-skool se hokkie ondersteun, ’n avontuur nie, maar die lewenslange vriendskappe wat gevorm is, sal in elke meisie se hart gekoester word. Volgende jaar kraai Bloemhof wéér koning(in)!