Die wêreld is groot; groter en mooier as wat ons soms besef. Daar is so baie om te sien en te beleef op hierdie wonderlike planeet van ons. Plekke soos Parys, Amsterdam, Londen en Dubai is gewilde reisbestemmings, om maar net ’n paar te noem. Daar is egter soveel geheime in die wêreld wat net wag om ontdek te word.
Een van hierdie minder bekende bestemmings is Crna Gora – of meer bekend aan die Italiaanse naam, Montenegro. Hierdie kleiner land lê in die suidooste van Europa en het Serwië, Kroasië en Albanië as buurlande. Die Mediterreense klimaat met warm somers en matige winters maak Crna Gora dwarsdeur die jaar ’n ideale reisbestemming.
Wat die land te kort kom in grootte, word met prentjiemooi landskappe opgemaak. Die naam Montenegro beteken wel “Swart berg”, maar selfs dit kan ontplof met kleur. Die landskap is ’n lewende poskaart met die pieke wat amper dwarsdeur die jaar met blomme oortrek en met die donkergroen van die bome gevlek is. Die turkoois strome wat in die potblou see uitloop, voltooi hierdie prentjie.
Die land spog met die beeldskone wêrelderfenisbaai van Kotor, die pragtige Budva Riviera, vele nasionale parke en skitterende mere. As ontspanning op sonnige strande nie genoeg is nie, is daar ook vele historiese terreine, soos die Podgorica Katedraal, die Tripkovic Kasteel en die Danila Most Brug om te besoek.
Natuurlik is dit belangrik om die tradisionele disse te proe. Moenie bang wees om nuwe disse te probeer en ander smake te beproef nie. Van hulle tradisionele geregte is ’n burek – ’n fillodeeg gevul met spinasie, maalvleis en kaas, ’n palacinke – ’n pannekoek gevul met konfyt of sjokolade, en ook seekatslaai.
Daar is oorgenoeg aktiwiteite om van te kies om jou toer die moeite werd te maak. Gaan doen rekspring van die Durdevica Tara Brug af, klim die leer van Kotor, gaan vaar op Lake Piva of gaan stap in die Biogradska Gora Nasionale Park. In hierdie klein land sal jy beslis nie verveeld ronddwaal nie. Daar is selfs ’n ski-oord, Zabljak, om in die winter te geniet.
Verblyfkoste in Montenegro is redelik dieselfde as in die res van die Balkans. Gastehuise is vir so min as $17-20 beskikbaar, terwyl groter en luukser hotelle in beeldskone liggings tot $60 kan kos. Dieselfde kan gesê word oor die kos: Vir eenvoudige etes sal jy gewoonlik $5-6 betaal, ‘n meer komplekse of eksotiese dis sal jou $11-12 uit die sak ruk.
Crna Gora is beslis een van die wêreld se verrassings waar daar definitief nog baie skatte skuil. Gebruik die tyd wat jy het om te toer en die wêreld te verken en ontdek Montenegro self.