Wie't die ligte afgesit? Foto: Lalagen Joubert

Bloemhof wen Fraserburg Toneelfees!

Gedurende die langnaweek in Augustus het Bloemhof se toneelgroep na ’n klein Noord-Kaapse dorpie, Fraserburg, getoer om aan die Logan Toneelfees deel te neem. Hierdie toneelfees is een van die oudste Afrikaanse tienertoneelfeeste in Suid-Afrika en vier hierdie jaar hul 45ste bestaansjaar. Vele skole van regoor die land vertoon jaarliks hul harde werk op die verhoog, onder andere Paul Roos, Oranje, Grey en Parel Vallei.

Vir die eerste keer sedert 2019 het die skool weer ’n leerderproduksie, getiteld Wie’t die ligte afgesit?, opgevoer. Carla van der Westhuizen (gr. 12) was verantwoordelik vir sowel die skryf van die teks as die regie. Sy het die Nicolene van Wyk Beoordelaarstoekenning verower vir Regie, Skryf, Spel en Konsep en is ook vir Beste Aktrise genomineer. 

Behalwe dat Bloemhof se nominasies Beste Ensemblespel en Beste Regie insluit, het die produksie die eerste prys vir Beste Nuutgeskrewe Teks asook Beste Produksie ontvang!