Bron: Klub Momentum

4M: Trane van TROTS

Ek onthou nog my eerste 4M. Ek het gewonder wat is nou eintlik so spesiaal? ‘n Klomp meisies, ‘n paar krete en atlete. Erge hitte… en dan gebeur dit… hoendervleis… Dit begin by jou kleintoontjie en breek stadig uit die wegspringblokke, dit kruip by jou arms op en ontplof in jou hart. 4M is nie ‘n gebeurtenis nie … dis ‘n gevoel.

Pawiljoen en deelnemer word een. Passie. Ouers en onderwysers gil saam. Trots. Baadjies smelt saam. Eenheid. 2023 se 4M was niks anders hierdie jaar nie. Hoendervleis. Die dag begin met: “Eina! Jy trek my hare”, die bekende woorde van enige gevlegde Bloemhofvriendin.

Bron: Klub Momentum

Geverfde gesiggies, trotseer vroeg al die hitte in skoolbaadjies. Pare swart skoene druis opgewonde om by die laaste kreetoefening uit te kom. ‘n Paar rillings ondervinding vir die geeskommitee (en onderwysers), en ‘n jillende atmosfeer vir die res van ons. Posisies
word gefinaliseer. Niks kan die Bloemhoffers vandag
onderkry nie.

Vandag gaan ons oorlog toe. Oorlog teen ons vrese en ons vorige persoonlike beste tyd en natuurlik ons opponente (wat ons aanspoor om nog bietjie dieper te delf).

Die oomblik waarvoor almal gewag het breek aan (nog nie 4M nie): Die Groot Spog. Bloemhof spog met hulle geesleiers se kreatiewe saam-sing speletjie, swemmers se glimlagte op die verhoog terwyl die atlete entoesiasties, amper dansend, verbysteek. Bloemhof is reg vir 4M, maar is 4M reg vir haar?


Blou, wit en rooi hande dra die skool se vlag in ons harte. Asems word weggeslaan met die Geeskomitee en Juf. Van Heerden se nuwe besonderse uitrusting en sommige matrieks kry idees vir hul matriekafskeidrokke. Die krete word uit volle bors geskree en die aarde bewe tot in Dal Josafat.

Bron: Klub Momentum

Die atlete se leuse “Ek is, ons is” vloei deur almal se are. Almal weet hier kom ‘n ding! Die dag raak lank en die stemme raak hees. Passie is te eenvoudig om die
gevoel van 4M se susterskap te beskryf. Vandag is ons vier skole een. Trots is die ritme van elke Bloemhoffer se hartklop. Eenheid is Bloemhof. Teen die tyd gee ons nie eintlik om oor die uitslae nie, net oor die sussie langs jou. Die beste gevoel in die wêreld. Die matrieks se laaste 4M-trane kamoefleer reeds hul geverfde gesiggies.


Die mooiste van die aand is teen skemer wanneer die atlete saamdrom voor hul skool se ondersteuners. Ons kyk op na die hemele en onthou om dankie te sê vir die geleentheid en talente, alle eer aan God, altyd. Saam met ons Sjampanjenooi, vier ons Robi se mooi volkslied, elke passievolle danser, ondersteuner en atleet! Die blou baadjies bind ons. Rhenish is 4de. Doef, doef, jy kan amper Bloemhof se hart hoor klop. Daar lê net sekondes tussen ons en …
La Rochelle is derde. Bloemhof gaan tekere. Juig. Ons raas. Ons bars uit in trane van trots.

Bron: Klub Momentum

Sussies in Bloemhof is bó eerste plek in enige ander kleur baadjie. Ons persoonlikheid verras die Stellenbosch-lug en ons onderwysers verras ons. Hulle dans en skree kliphard saam (nogal met ritme). Dis die spesiale oomblikke. Rhenish kom deel in ons vreugde. Onbeskryflik. Bloemhof erken ‘n atleet van ‘n ander skool. Trots. Bloemhof se aflosspan breek ‘n rekord (o.17) en ook vir die meeste atlete wat saam hardloop in een span…


NIEMAND wil huis toe gaan nie. Die selfoonliggies gaan aan so asof die bietjie omgee tog die wêreld kan verander. Liefde. Trane, drukkies, sweet, ouers, onnies, Juf. Van Heerden, liggies, Old Girls en Bloemhof se dankbare gebede. Bloemhof is vir my, vir ons, ‘n hart wat nooit sal ophou klop nie. Vir haar is die antwoord op Stellenbosch se hitte BAADJIETROTS (ek wens amper dit was weer 44 ̊C). Pasop, volgende jaar word Bloemhof se naam laaste
genoem en gaan die beker saam huis toe.

Tweede plek is definitief die nuwe eerste plek.

Bron: Klub Momentum

Lees meer: